Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.

10. U het inderdaad die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig; geniet die eer en bly tuis. Waarom wil u u tog in die ongeluk stort, dat u sou val, u en Juda saam met u?

11. Maar Amásia het nie geluister nie. Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hy en Amásia, die koning van Juda, het mekaar se aangesig gesien by Bet-Semes wat aan Juda behoort.

12. En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug elkeen na sy tente toe.

13. En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Ahásia, by Bet-Semes gevang; en hy het in Jerusalem gekom en vierhonderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.

14. En hy het al die goud en die silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die huis van die koning te vinde was, en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría.

15. En die verdere geskiedenis van Joas, wat hy gedoen het, en sy magtige dade en hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

16. En Joas het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría by die konings van Israel; en sy seun Jeróbeam het in sy plek koning geword.

17. En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.

18. En die verdere geskiedenis van Amásia, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

19. En hulle het ’n sameswering in Jerusalem teen hom gesmee, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aan gestuur na Lagis en hom daar gedood.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14