Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 6:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En let op: As dit in die rigting van sy eie gebied na Bet-Semes opgaan, dan het Hy ons hierdie groot onheil aangedoen; maar so nie, dan weet ons dat sy hand ons nie getref het nie: dit het toevallig oor ons gekom.

10. Die manne doen toe so: hulle het twee melkkoeie geneem en dié voor die wa gespan en hulle kalwers by die huis agtergehou.

11. En hulle het die ark van die Here op die wa gesit en die kissie met die goue muise en die beelde van hulle geswelle.

12. En die koeie het reguit padlangs geloop in die rigting van Bet-Semes; hulle het op die een grootpad aldeur geloop en bulk sonder om regs of links uit te draai, terwyl die vorste van die Filistyne agter hulle aan gaan tot by die grens van Bet-Semes.

13. En die mense van Bet-Semes was juis besig om die koringoes af te sny in die laagte. Toe hulle dan hul oë opslaan en die ark gewaar, was hulle bly om dit te sien.

14. En die wa het by die land van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan; daar was ’n groot klip, en hulle het die hout van die wa gekloof en die koeie as ’n brandoffer aan die Here geoffer.

15. En die Leviete het die ark van die Here afgehaal met die kissie wat daarby was, waar die goue voorwerpe in was, en op die groot klip neergesit; en die manne van Bet-Semes het dieselfde dag aan die Here brandoffers geoffer en slagoffers geslag.

16. En toe die vyf vorste van die Filistyne dit sien, het hulle dieselfde dag teruggegaan na Ekron.

17. En dit is die goue geswelle wat die Filistyne as ’n skuldoffer aan die Here teruggegee het: vir Asdod een, vir Gasa een, vir Áskelon een, vir Gat een, vir Ekron een.

18. En die goue muise was volgens die getal van al die stede van die Filistyne wat aan die vyf vorste behoort het, van die versterkte stede sowel as van die onbemuurde dorpe. En die groot klip waar hulle die ark van die Here op neergesit het, is tot vandag toe getuie op die stuk land van Josua, van Bet-Semes.

19. En Hy het onder die mense van Bet-Semes ’n slagting aangerig; Hy het naamlik onder die volk sewentig man en vyftigduisend man gedood, omdat hulle die ark van die Here bekyk het; en die volk het getreur, omdat die Here ’n groot slagting onder die volk aangerig het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 6