Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete ’n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.

2. En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan.

3. Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer.

4. Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.

5. Ook Dawid se twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet, was as gevangenes weggevoer.

6. En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die Here sy God.

7. En Dawid sê vir Ábjatar, die priester, die seun van Ahiméleg: Bring tog die skouerkleed vir my hier. Daarop het Ábjatar die skouerkleed na Dawid gebring.

8. En Dawid het die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal? En Hy sê vir hom: Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.

9. Daarop het Dawid weggetrek, hy met die seshonderd man wat by hom was; en toe hulle by die spruit Besor kom, het die origes agtergebly.

10. Dawid het naamlik agtervolg, hy met vierhonderd man, terwyl tweehonderd man agtergebly het wat te moeg was om die spruit Besor deur te trek.

11. Toe vind hulle in die veld ’n Egiptenaar wat hulle na Dawid bring, en hulle gee hom brood om te eet en water om te drink.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30