Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Sifiete het by Saul in Gíbea gekom en gesê: Steek Dawid hom nie weg op die heuwel Hagíla vooraan die wildernis nie?

2. Toe het Saul hom klaargemaak en afgetrek na die woestyn Sif, en met hom saam drieduisend man, uitgesoektes uit Israel, om Dawid te soek in die woestyn Sif.

3. En Saul het laer opgeslaan op die heuwel Hagíla wat vooraan die wildernis langs die pad lê, terwyl Dawid in die woestyn gebly het. Maar toe hy sien dat Saul agter hom aankom die woestyn in —

4. want Dawid het verkenners uitgestuur en verneem dat Saul verseker aankom —

5. maak Dawid hom klaar en gaan na die plek waar Saul in die laer staan; en Dawid het die plek bekyk waar Saul gaan slaap het saam met Abner, die seun van Ner, sy leërowerste; Saul het naamlik geslaap in die wa-laer, terwyl die manskappe rondom hom in die laer was.

6. En Dawid het begin spreek met Ahiméleg, die Hetiet, en met Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en gesê: Wie sal met my saam afgaan na Saul, na die laer toe? En Abísai sê: Ek sal met u saam afgaan.

7. Toe Dawid met Abísai in die nag by die manskappe kom, lê Saul daar en slaap in die wa-laer met sy spies aan sy koppenent in die grond gesteek, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê.

8. En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ’n tweede keer te doen.

9. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die Here en bly ongestraf?

10. Verder sê Dawid: So waar as die Here leef, sekerlik sal die Here hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom!

11. Mag die Here my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die Here sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26