Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:26-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En nou, my heer, so waar as die Here leef en u siel leef, dit is die Here wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word.

27. En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek.

28. Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die Here sal sekerlik vir my heer ’n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die Here voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.

29. As ’n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die Here u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger.

30. En as die Here aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het, en u aanstel as vors oor Israel,

31. dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die Here goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink.

32. Toe sê Dawid vir Abígail: Geseënd is die Here, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het!

33. En geseënd jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak en my met eie hand te help.

34. Maar so waar as die Here, die God van Israel, leef wat my verhinder het om aan jou kwaad te doen — as jy my nie gou tegemoetgekom het nie, voorwaar, daar sou van Nabal niemand wat manlik is, tot die môrelig oorgebly het nie!

35. En Dawid het uit haar hand aangeneem wat sy vir hom gebring het, en vir haar gesê: Gaan op in vrede na jou huis! Kyk, ek het na jou geluister en jou in guns aangeneem.

36. Toe Abígail by Nabal kom, het hy juis ’n maaltyd in sy huis aangerig soos die maaltyd van ’n koning; en Nabal se hart was vrolik in hom, en hy was baie dronk; daarom het sy hom niks, klein of groot, meegedeel totdat dit die môre lig word nie.

37. Maar die môre vroeg toe die wyn Nabal verlaat het, deel sy vrou hom dié dinge mee. Daarop het sy hart in sy binneste gesterwe en was hy soos ’n klip.

38. En ná omtrent tien dae het die Here Nabal getref, sodat hy gesterf het.

39. Toe Dawid hoor dat Nabal dood was, sê hy: Geseënd is die Here wat die regsaak, in die smaad my aangedoen, teen Nabal verdedig het en sy kneg teruggehou het van die kwaad, terwyl die Here die kwaad van Nabal op sy eie hoof laat neerkom het. En Dawid het by Abígail aansoek laat doen om haar vir hom as vrou te neem.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25