Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 21:8-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En Dawid sê vir Ahiméleg: Is hier nie ’n spies of ’n swaard by u nie? Want ek het my swaard sowel as my wapens nie met my saamgeneem nie, omdat die opdrag van die koning dringend was.

9. Toe sê die priester: Die swaard van Góliat, die Filistyn, wat u in die dal van die terpentynboom verslaan het, hier is dit in ’n mantel toegedraai, agter die skouerkleed; as u dit vir u wil neem, neem dit, want behalwe dit is hier geen ander nie. Toe sê Dawid: Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.

10. En Dawid het hom klaargemaak en dié dag van Saul af weggevlug en by Agis, die koning van Gat, gekom.

11. Maar die dienaars van Agis het hom gevra: Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Het hulle nie vir hom in die koordanse gesing nie en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende?

12. En Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat.

13. Daarom het hy hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou onder hulle hand en op die deure van die poort gekrap en sy speeksel in sy baard laat afloop.

14. Daarop sê Agis aan sy dienaars: Julle sien tog die man is kranksinnig, waarom bring julle hom na my toe?

15. Het ek gebrek aan kranksinniges, dat julle hierdie een bring om sy kranksinnigheid by my uit te haal? Moet so een in my huis inkom?

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 21