Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:16-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.

17. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.

18. En die Here het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.

19. Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?

20. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.

21. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.

22. Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

23. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

24. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15