Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die Here aangeroep.

12. Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom ’n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal.

13. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die Here: ek het die woord van die Here uitgevoer.

14. Daarop vra Samuel: Maar wat vir ’n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ’n gebulk van beeste wat ek hoor?

15. En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.

16. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.

17. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.

18. En die Here het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.

19. Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?

20. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.

21. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.

22. Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15