Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:10-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die Here hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees.

11. Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het.

12. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle ’n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die Here het hulle in die hand van Israel gegee.

13. En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak.

14. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van’n aanvoorsel van ’n stuk land.

15. Toe kom daar ’n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ’n skrik van God geword het.

16. En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf,

17. sê Saul aan die manskappe wat by hom was: Hou tog ’n monstering en kyk wie van ons af weggegaan het. En by die monstering het geblyk dat Jónatan en sy wapendraer daar nie was nie.

18. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God nader. Want die ark van God was in dié tyd by die kinders van Israel.

19. En terwyl Saul nog met die priester spreek en die rumoer wat in die laer van die Filistyne was, altyddeur groter word, sê Saul vir die priester: Trek jou hand terug!

20. Saul en al die manskappe wat by hom was, is toe saamgeroep, en hulle het by die geveg aangekom; en kyk, die swaard van die een was teen die ander — ’n baie groot verwarring.

21. Selfs die Hebreërs wat die Filistyne soos gister en eergister bygestaan het, wat verspreid met hulle saam in die leër opgetrek het, hulle het ook aangesluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jónatan was.

22. Toe al die manne van Israel wat op die gebergte van Efraim weggekruip het, hoor dat die Filistyne vlug, het dié hulle ook in die geveg agternagesit.

23. En die Here het Israel op dié dag verlos. Toe die geveg dan by Bet-Awen verbygaan,

24. en die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14