Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:1-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN op ’n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie.

2. En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent seshonderd man.

3. En Ahía, die seun van Ahítub, die broer van Íkabod, die seun van Pínehas, die seun van Eli, die priester van die Here in Silo, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jónatan weggegaan het nie.

4. Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, ’n spits rots oorkant en ’n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene.

5. Die een spits staan soos ’n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba.

6. Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die Here vir ons optree, want by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.

7. Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart.

8. Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon.

9. As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie.

10. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die Here hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees.

11. Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het.

12. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle ’n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die Here het hulle in die hand van Israel gegee.

13. En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak.

14. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van’n aanvoorsel van ’n stuk land.

15. Toe kom daar ’n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ’n skrik van God geword het.

16. En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf,

17. sê Saul aan die manskappe wat by hom was: Hou tog ’n monstering en kyk wie van ons af weggegaan het. En by die monstering het geblyk dat Jónatan en sy wapendraer daar nie was nie.

18. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God nader. Want die ark van God was in dié tyd by die kinders van Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14