Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe Dawid in sy huis gewoon het, sê Dawid aan die profeet Natan: Kyk, ék woon in ’n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here onder tentdoeke.

2. Toe sê Natan vir Dawid: Doen alles wat in u hart is, want God is met u.

3. Maar in dieselfde nag kom die woord van God tot Natan en sê:

4. Gaan sê vir Dawid, my kneg: So spreek die Here: Jý mag nie vir My die huis bou om in te woon nie.

5. Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek Israel laat optrek het tot vandag toe nie, maar Ek het gekom van tent tot tent, en van tabernakel tot tabernakel.

6. Oral waar Ek rondgetrek het onder die hele Israel, het Ek ooit ’n woord gespreek met een van die Rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?

7. So moet jy dan nou aan my kneg Dawid sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld, agter die skape weg, om ’n vors te wees oor my volk Israel.

8. En Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande uitgeroei voor jou uit; en Ek sal vir jou ’n naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is;

9. en Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer mishandel soos vroeër nie,

10. naamlik van die dae af dat Ek Rigters oor my volk Israel aangestel het; en Ek sal al jou vyande verneder. Daarom gee ek jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig.

11. En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal Ek jou nakomeling wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig.

12. Hý sal vir My ’n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid.

13. Ék sal vir hom ’n vader wees, en hý sal vir My ’n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17