Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 9:5-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. dan sal Ek die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ’n man ontbreek op die troon van Israel nie.

6. As julle en julle kinders ooit van My afvallig word en my gebooie, my insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie onderhou nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig,

7. dan sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp, sodat Israel ’n spreekwoord en ’n spotlied sal word onder al die volke.

8. En hierdie huis wat so hoog is — elkeen wat daarlangs verbygaan, sal hom verbaas en spot, en hulle sal vra: Waarom het die Here so gedoen met hierdie land en met hierdie huis?

9. Dan sal hulle sê: Omdat hulle die Here hul God verlaat het wat hulle vaders uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en daarvoor neergebuig en hulle gedien het — daarom het die Here al hierdie onheil oor hulle gebring.

10. EN aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die twee huise, die huis van die Here en die huis van die koning, gebou het —

11. Hiram, die koning van Tirus, het Salomo gehelp met sederhout en sipreshout en goud soveel as hy wou hê — gee koning Salomo aan Hiram twintig stede in die land Galiléa.

12. En Hiram het uit Tirus uitgetrek om die stede te bekyk wat Salomo hom gegee het, maar hulle was nie reg in sy oë nie.

13. Daarop sê hy: Wat vir stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hulle noem dit die land Kabul, tot vandag toe.

14. En Hiram het aan die koning honderd-en-twintig talente goud gestuur.

15. En dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het om die huis van die Here en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor en Megíddo en Geser te bou.

16. (Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en het Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as ’n trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.)

17. So het Salomo dan Geser opgebou en Bet-Horon-Onder

18. en Báälat en Tamar in die woestyn, in die land,

19. en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy.

20. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, wat nie uit die kinders van Israel was nie —

21. hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.

22. Maar van die kinders van Israel het Salomo niemand ’n slaaf gemaak nie, maar hulle was krygsmanne en sy dienaars en sy owerstes en sy adjudante en owerstes oor sy strydwaens en sy perderuiters.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 9