Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Die ingang van die onderste verdieping was aan die suidelike sykant van die huis, en wenteltrappe het opgegaan na die middelste, en van die middelste na die derde.

9. En toe hy die huis klaar gebou het, het hy die huis oordek, by wyse van vakke en rye, met sederhout.

10. En hy het die aanbousel teen die hele huis gebou; vyf el was elke verdieping hoog; en hy het dit aan die huis bevestig met sederbalke.

11. En die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê:

12. Wat hierdie huis betref, wat jy besig is om te bou — as jy wandel in my insettinge en my verordeninge uitvoer en al my gebooie onderhou om daarin te wandel, dan sal Ek my woord wat Ek tot jou vader Dawid gespreek het, aan jou vervul;

13. dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie.

14. Toe Salomo die huis klaar gebou het,

15. het hy die mure van die huis van binne bedek met sederplanke; van die vloer van die huis af tot by die balke van die plafon het hy dit van binne met hout belê, en die vloer van die huis het hy met sipresplanke belê.

16. Verder het hy die twintig el van die agterkant van die huis met sederplanke bedek, van die vloer af tot by die balke, en dit aan die binnekant as ’n binneste vertrek, as ’n Allerheiligste, gebou.

17. En vooraan was die huis, dit is die hoofvertrek, veertig el.

18. En sederhout was aan die huis binnekant: snywerk van kolokwinte en oop blomknoppe, dit alles van sederhout; geen klip was daar te sien nie.

19. So het hy dan ’n binneste vertrek binnekant in die middel van die huis ingerig om die verbondsark van die Here daar neer te sit.

20. En die binneste vertrek was twintig el in lengte en twintig el in breedte en twintig el in sy hoogte, en hy het dit oorgetrek met fyn goud; en die altaar het hy met sederhout bedek.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6