Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:28-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die Here nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!

29. En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead.

30. En die koning van Israel het vir Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek ú maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak en in die geveg gegaan.

31. En die koning van Aram het aan die owerstes van sy twee-en-dertig strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen.

32. En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is sekerlik die koning van Israel! En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Jósafat het geskreeu.

33. En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.

34. Toe het ’n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan sy drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.

35. En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs; maar in die aand het hy gesterwe, en die bloed van die wond het in die wa se bak gevloei.

36. En teen sonsondergang gaan ’n geskreeu deur die leër: Elkeen na sy stad en elkeen na sy land toe!

37. En die koning het dood in Samaría aangekom, en die koning is in Samaría begrawe.

38. En toe hulle die wa uitspoel by die dam van Samaría, het die honde sy bloed gelek (terwyl die hoere hulle daarin was), volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het.

39. En die verdere geskiedenis van Agab en alles wat hy gedoen het, en die ivoorhuis wat hy gebou het, en al die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

40. En Agab het ontslaap met sy vaders, en sy seun Ahásia het in sy plek koning geword.

41. EN Jósafat, die seun van Asa, het koning geword oor Juda in die vierde jaar van Agab, die koning van Israel.

42. Jósafat was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die dogter van Silhi.

43. En hy het geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel — daarvan het hy nie afgewyk nie — deur te doen wat reg was in die oë van die Here.

44. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.

45. En Jósafat het vrede gesluit met die koning van Israel.

46. En die verdere geskiedenis van Jósafat en sy magtige dade wat hy gedoen het, en hoe hy oorlog gevoer het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22