Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Daarop het sy briewe in die naam van Agab geskrywe en met sy seël dit verseël en die brief gestuur aan die oudstes en die edeles wat in sy stad was, wat by Nabot gewoon het.

9. En in die briewe het sy dit geskrywe: Roep ’n vasdag uit, en sit Nabot vooraan onder die volk;

10. en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe.

11. Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gewoon het, maak toe soos Isébel hulle laat weet het, soos geskrywe was in die briewe wat sy aan hulle gestuur het.

12. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en Nabot vooraan onder die volk gesit.

13. Toe kom die twee manne, deugniete, en gaan sit teenoor hom; en die deugniete het teen hom, teen Nabot, voor die volk getuig en gesê: Nabot het God en die koning gevloek. Daarop lei hulle hom buitekant die stad uit en stenig hom, sodat hy gesterf het.

14. Daarna laat hulle Isébel weet: Nabot is gestenig en is dood.

15. Net toe Isébel hoor dat Nabot gestenig en dood was, sê Isébel vir Agab: Staan op, neem die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, in besit wat hy geweier het om vir geld aan jou te gee; want Nabot leef nie, maar is dood.

16. Net toe Agab hoor dat Nabot dood was, het Agab opgestaan om na die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, af te gaan om dit in besit te neem.

17. Maar die woord van die Here het tot Elía, die Tisbiet, gekom en gesê:

18. Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem.

19. En jy moet met hom spreek en sê: So sê die Here: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem? Verder moet jy met hom spreek en sê: So spreek die Here: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek.

20. Daarop sê Agab vir Elía: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here!

21. Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering.

22. En Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My geterg het, en dat jy Israel laat sondig het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21