Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

11. En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.

12. En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte.

13. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?

14. En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

15. Maar die Here sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram.

16. En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek.

17. En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak.

18. Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.

19. Hy het toe daarvandaan weggegaan en Elísa, die seun van Safat, aangetref terwyl hy aan ploeë was met twaalf paar osse voor hom en hy self by die twaalfde paar was; en Elía het by hom verbygegaan en sy mantel op hom gewerp.

20. Daarop het hy die osse verlaat en agter Elía aan geloop en gesê: Laat ek tog my vader en my moeder soen; daarna sal ek u volg. En hy antwoord hom: Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?

21. Hy draai toe agter hom om en neem die paar osse en slag dit; en met die osse se trekgoed het hy hulle vleis gekook en aan die mense gegee, en hulle het geëet; daarna het hy hom klaargemaak en Elía gevolg en hom gedien.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19