Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:26-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.

27. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ’n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.

28. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het.

29. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie.

30. Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die Here herstel wat afgebreek was.

31. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders — tot wie die woord van die Here gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees —

32. en hy bou met die klippe ’n altaar in die Naam van die Here. Daarna het hy ’n sloot gemaak rondom die altaar, ’n ruimte vir omtrent twee mate saad,

33. en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê.

34. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen,

35. sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak.

36. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het.

37. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.

38. Daarop het die vuur van die Here neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18