Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:18-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Net toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning bo-op hom aan die brand gesteek, sodat hy gesterf het,

19. vanweë sy sondes wat hy begaan het deur te doen wat verkeerd was in die oë van die Here, deur te wandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig.

20. En die verdere geskiedenis van Simri en sy sameswering wat hy gesmee het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

21. Toe is die volk van Israel verdeel in twee helftes: een helfte van die volk het Tibni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri gevolg.

22. Maar die volk wat Omri gevolg het, was te sterk vir die volk wat Tibni, die seun van Ginat, gevolg het; en Tibni het gesterwe, en Omri het koning geword.

23. In die een-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning.

24. En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer, die eienaar van die berg.

25. En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers.

26. Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die Here, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode.

27. En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

28. En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword.

29. EN Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in Samaría oor Israel twee-en-twintig jaar geregeer.

30. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers.

31. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig,

32. en vir Baäl ’n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het.

33. Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die Here, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16