Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het die woord van die Here gekom tot Jehu, die seun van Hanáni, teen Baésa, en gesê:

2. Omdat Ek jou uit die stof opgehef en jou as ’n vors oor my volk Israel aangestel het, maar jy in die weg van Jeróbeam gewandel en my volk Israel laat sondig het, om My te terg deur hulle sondes,

3. daarom sal Ek Baésa en sy huis skoon wegvee, en Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat.

4. Die een wat van Baésa in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie van hom in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.

5. En die verdere geskiedenis van Baésa en wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

6. En Baésa het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in Tirsa; en sy seun Ela het in sy plek koning geword.

7. Ook het die woord van die Here deur die diens van Jehu, die seun van Hanáni, die profeet, gekom teen Baésa en teen sy huis, nie alleen oor al die kwaad wat hy in die oë van die Here gedoen het, deur Hom te terg met sy handewerk om soos die huis van Jeróbeam te wees nie, maar ook omdat hy hom verslaan het.

8. IN die ses-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Ela, die seun van Baésa, oor Israel koning geword in Tirsa, twee jaar lank.

9. Maar sy dienaar Simri, die owerste oor die helfte van die strydwaens, het ’n sameswering teen hom gesmee: terwyl hy hom dronk gedrink het in Tirsa, in die huis van Arsa, wat oor die paleis in Tirsa was,

10. het Simri ingekom en hom verslaan en hom gedood in die sewen-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het in sy plek koning geword.

11. En toe hy koning was, terwyl hy op die troon sit, het hy die hele huis van Baésa verwoes; hy het vir hom niemand laat oorbly wat manlik is nie, ook nie sy bloedwrekers en vriende nie.

12. So het Simri dan die hele huis van Baésa verdelg volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het oor Baésa deur die diens van die profeet Jehu,

13. vanweë al die sondes van Baésa en die sondes van sy seun Ela wat hulle gedoen het en waarmee hulle Israel laat sondig het, om die Here, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode.

14. En die verdere geskiedenis van Ela en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

15. In die sewen-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, was Simri sewe dae lank koning in Tirsa, terwyl die manskappe Gíbbeton beleër wat aan die Filistyne behoort het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16