Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:8-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. en die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit aan jou gegee het, maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou en My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie,

9. maar jy meer kwaad gedoen het as al jou voorgangers en vir jou ander gode en gegote beelde gaan maak het om My te terg en My agter jou rug gewerp het —

10. kyk, daarom bring Ek onheil oor die huis van Jeróbeam en sal van Jeróbeam uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering; en Ek sal die huis van Jeróbeam skoon wegvee soos ’n mens drek wegvee totdat daar niks van oor is nie.

11. Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die Here het dit gespreek.

12. Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.

13. En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ’n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die Here, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.

14. Maar die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel verwek wat die huis van Jeróbeam dié dag sal uitroei; ja, wat sê ek? Nou al.

15. En die Here sal Israel slaan, soos ’n riet in die water heen en weer beweeg, en sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het, en hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hul heilige boomstamme gemaak en die Here geterg het.

16. En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.

17. Toe het die vrou van Jeróbeam haar klaargemaak en weggegaan en in Tirsa aangekom. Net toe sy op die drumpel van die huis kom, het die seun gesterwe.

18. En hulle het hom begrawe, en die hele Israel het hom beklaag volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg, die profeet Ahía.

19. En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

20. En die dae wat Jeróbeam geregeer het, was twee-en-twintig jaar; en hy het ontslaap met sy vaders, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword.

21. EN Rehábeam, die seun van Salomo, was koning in Juda; een-en-veertig jaar was Rehábeam oud toe hy koning geword het, en sewentien jaar het hy geregeer in Jerusalem, die stad wat die Here verkies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese.

22. En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en sy ywer opgewek, meer as al die dade van hulle vaders, deur hul sondes wat hulle gedoen het.

23. En hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14