Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:11-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die Here het dit gespreek.

12. Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.

13. En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ’n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die Here, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.

14. Maar die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel verwek wat die huis van Jeróbeam dié dag sal uitroei; ja, wat sê ek? Nou al.

15. En die Here sal Israel slaan, soos ’n riet in die water heen en weer beweeg, en sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het, en hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hul heilige boomstamme gemaak en die Here geterg het.

16. En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.

17. Toe het die vrou van Jeróbeam haar klaargemaak en weggegaan en in Tirsa aangekom. Net toe sy op die drumpel van die huis kom, het die seun gesterwe.

18. En hulle het hom begrawe, en die hele Israel het hom beklaag volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg, die profeet Ahía.

19. En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

20. En die dae wat Jeróbeam geregeer het, was twee-en-twintig jaar; en hy het ontslaap met sy vaders, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14