Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE kom daar ’n man van God uit Juda deur die woord van die Here in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan;

2. en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die Here en gesê: Altaar, altaar, so spreek die Here: Kyk, ’n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.

3. En hy het dieselfde dag ’n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die Here gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word.

4. En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword, sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.

5. En die altaar is uitmekaargeskeur, en die as is van die altaar afgegooi volgens die wonderteken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die Here.

6. Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van die Here jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die Here om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.

7. Daarop sê die koning aan die man van God: Kom met my saam huis toe en versterk jou, en laat ek jou ’n geskenk gee.

8. Maar die man van God sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie.

9. Want so het die Here my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.

10. Hy het toe met ’n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Bet-el gekom het nie.

11. EN daar het ’n sekere ou profeet in Bet-el gewoon; en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Bet-el gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gespreek het. En toe hulle dit aan hul vader vertel,

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 13