Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 20:1-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand.

2. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,

3. en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word.

4. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.

5. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.

6. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

7. EN wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;

8. en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 20