Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 19:12-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.

13. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

14. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.

15. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

16. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

17. En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ’n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,

18. dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.

19. En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.

20. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.

21. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 19