Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 9:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En hy het opgestaan en huis toe gegaan.

8. En toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat so ’n mag aan die mense gegee het.

9. EN toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ’n man met die naam van Matthéüs by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.

10. En terwyl Hy in die huis aan tafel was, het daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan.

11. En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?

12. Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.

13. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

14. DAARNA kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?

15. En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.

16. En niemand sit ’n nuwe stuk lap op ’n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ’n erger skeur.

17. ’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.

18. TERWYL Hy vir hulle dit sê, kom daar ’n sekere owerste en val voor Hom neer en sê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 9