Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 8:14-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. EN toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors.

15. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.

16. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,

17. sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

18. EN toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant.

19. En ’n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan.

20. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

21. En ’n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe.

22. Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe.

23. EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

24. En daar het ’n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap.

25. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan!

26. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ’n groot stilte gekom.

27. En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir ’n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?

28. EN toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie.

29. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?

30. En ver van hulle af het ’n groot trop varke gewei.

31. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar.

32. En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.

33. En die wagters het gevlug; en toe hulle in die stad kom, het hulle alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 8