Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 13:3-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ’n Saaier het uitgegaan om te saai;

4. en terwyl hy saai, val ’n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.

5. En ’n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie;

6. maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.

7. En ’n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.

8. En ’n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.

9. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

10. En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?

11. Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

12. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

13. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.

14. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

15. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

16. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.

17. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.

18. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.

19. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is.

20. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;

21. maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ’n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.

22. En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 13