Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:27-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.

28. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.

29. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.

30. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

31. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

32. En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.

33. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.

34. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.

35. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

36. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.

37. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

38. Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

39. En Hy het vir hulle ’n gelykenis uitgespreek: ’n Blinde kan tog nie ’n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?

40. ’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.

41. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?

42. Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6