Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:4-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.

5. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.

6. En toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.

7. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.

8. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!

9. Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;

10. en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.

11. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.

12. EN terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ’n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.

13. Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.

14. Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ’n getuienis.

15. Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.

16. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.

17. EN op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.

18. En daar het manne ’n mens wat verlam was, op ’n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit.

19. En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.

20. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.

21. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?

Lees volledige hoofstuk Lukas 5