Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan

2. en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.

3. Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ’n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer.

4. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.

5. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.

6. En toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.

7. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.

8. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!

9. Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;

10. en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.

11. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.

12. EN terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ’n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.

13. Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.

14. Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ’n getuienis.

15. Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 5