Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:5-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En ’n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het.

6. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ’n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?

7. Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ’n ander een voor my in.

8. Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.

9. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.

10. Die Jode sê toe vir hom wat genees was: Dit is sabbat; dit is jou nie geoorloof om jou bed te dra nie.

11. Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop.

12. Toe vra hulle hom: Wie is die man wat vir jou gesê het: Neem jou bed op en loop?

13. Maar hy wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was nie; want Jesus het Hom verwyder, omdat daar ’n skare op die plek was.

14. Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.

15. Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.

16. EN hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het.

17. En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

18. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.

19. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.

20. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.

21. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.

22. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,

23. sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5