Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:3-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.

4. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was.

5. En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie?

6. Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.

7. Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;

8. en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

9. van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

10. en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie;

11. en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.

12. Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.

13. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

14. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

15. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

16. ’n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ’n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.

17. Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: ’n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer ’n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?

18. Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: ’n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie.

19. En Jesus het gemerk dat hulle Hom wou vra, en Hy sê vir hulle: Ondervra julle mekaar daaroor dat Ek gesê het: ’n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ’n klein tydjie, en julle sal My sien?

20. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.

Lees volledige hoofstuk Johannes 16