Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:9-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ’n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.

10. En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.

11. En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen,

12. sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.

13. En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!

14. Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ’n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het.

15. Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?

16. Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.

17. En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.

18. En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak;

19. en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was.

20. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.

21. En toe hierdie dinge verby was, het Paulus hom voorgeneem om deur Macedónië en Acháje te gaan en na Jerusalem te reis. Hy het gesê: Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien.

22. Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timótheüs en Erástus, na Macedónië, terwyl hy self nog ’n tyd lank in Asië gebly het.

23. En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie.

24. Want iemand met die naam van Demétrius, ’n silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het ’n aansienlike verdienste aan die ambagsmanne verskaf.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19