Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 12:9-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ’n gesig sien.

10. En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.

11. Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.

12. En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.

13. En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ’n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was.

14. En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan.

15. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel.

16. En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas.

17. Maar hy het vir hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na ’n ander plek vertrek.

18. En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 12