Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 7:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ’n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.

6. Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie.

7. Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.

8. Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek;

9. maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

10. En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie;

11. en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.

12. Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie;

13. en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.

14. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.

15. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.

16. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?

17. Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 7