Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê;

12. nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.

13. Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.

14. Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.

15. Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

16. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.

17. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

18. My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.

19. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel,

20. want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.

21. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God;

22. en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3