Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 23:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Moenie eet by ’n suinige mens nie. Moenie sy lekker kos begeer nie.

7. Hy sê: “Eet en drink gerus!” Hy bedoel dit nie, want hy sit en berekenhoeveel dit hom sal kos.

8. Jy sal naar word van die bietjie wat jy eet, jou komplimente sal jy moet sluk.

9. Moenie ’n dwaas reghelp nie. Jou goeie raad behandel hy met minagting.

10. Moenie die ou grense van ’n stuk grond verskuif nie. Moenie weeskinders se grond by hulle probeer afvat nie.

11. Die Een wat hulle beskerm, is magtig. Hy sal hulle saak teen jou verdedig.

12. Onderwerp jou aan dissipline. Luister goed na wat ek jou leer.

13. Moenie bang wees om jou kind te dissiplineer nie. Hy sal nie doodgaan van ’n pak slae nie.

14. As jy hom wil red van die dood, moet jy hom juis lyfstraf gee.

15. Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ’n wyse mens word.

16. Ek sal in my hart juig wanneer jy reg praat.

17. Moenie jaloers word op sondaars nie. Behou altyd jou ontsag vir die Here.

18. Jy sal altyd ’n toekoms hê. Jou hoop sal nooit beskaam word nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 23