Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 8:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ou mans en vroue sal weer op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie omdat hulle so oud is.

5. Die strate van die stad sal weer vol seuns en dogters wees wat daar speel.”

6. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Al hierdie dinge lyk dalk vandag vir julle, ’n klein en mismoedige oorblyfsel van God se volk, onmoontlik. Maar dink julle dit is onmoontlik vir My, die Here, die Almagtige?”

7. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Julle kan daarvan seker wees dat Ek my volk gaan red van die nasies in die ooste en die weste.

8. Ek gaan hulle weer tuis laat kom en veilig in Jerusalem laat woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal in trou en regverdigheid hulle God wees.”

9. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Wees sterk! Julle het gehoor wat die profete destyds oor die bou van die tempel van die Here, die Almagtige, gesê het, die dag dat die fondamente gelê is.

10. Voor die werk aan die tempel begin het, was daar nie werk nie en ook nie lone nie, nie vir mense nie en ook nie vir diere nie. Geen reisiger was veilig teen vyande nie omdat daar van alle kante vyande was. Ek het al die mense teen mekaar laat draai.

11. Nou sal Ek die oorblyfsel van my volk nie behandel soos wat Ek hulle vroeër behandel het nie,” sê die Here, die Almagtige.

12. “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer. Ek sal weer ’n keer die oorblyfsel van Juda en Israel die erfgename van hierdie seëninge maak.

13. Juda en Israel het onder die nasies simbole geword van wat dit beteken om vervloek te wees. Maar nie langer nie! Nou sal Ek julle red en julle ’n simbool en ’n bron van seën maak. Moenie bang of mismoedig wees nie. Wees sterk!”

Lees volledige hoofstuk Sagaria 8