Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 8:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Voor die werk aan die tempel begin het, was daar nie werk nie en ook nie lone nie, nie vir mense nie en ook nie vir diere nie. Geen reisiger was veilig teen vyande nie omdat daar van alle kante vyande was. Ek het al die mense teen mekaar laat draai.

11. Nou sal Ek die oorblyfsel van my volk nie behandel soos wat Ek hulle vroeër behandel het nie,” sê die Here, die Almagtige.

12. “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer. Ek sal weer ’n keer die oorblyfsel van Juda en Israel die erfgename van hierdie seëninge maak.

13. Juda en Israel het onder die nasies simbole geword van wat dit beteken om vervloek te wees. Maar nie langer nie! Nou sal Ek julle red en julle ’n simbool en ’n bron van seën maak. Moenie bang of mismoedig wees nie. Wees sterk!”

14. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ek het nie van plan verander toe julle voorouers My kwaad gemaak en Ek besluit het om hulle te straf nie,” sê die Here, die Almagtige.

15. “Net so sal Ek ook nie my besluit om Jerusalem en die volk van Juda te seën, verander nie. Moenie bang wees nie!

16. “Dit is wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Maak seker dat die regspraak in julle howe regverdig is en tot vrede lei.

17. Moenie bose planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Hou op om vals te sweer. Ek haat al hierdie soort dinge,” sê die Here.

18. Hier is nog ’n boodskap van die Here, die Almagtige, wat tot my gekom het.

19. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Die tradisionele tye van vas en rou wat julle vroeg somer, in die middel van die somer, in herfs en winter gehou het, kom nou tot ’n einde. Dit word nou feeste van vrolikheid en vreugde vir die volk van Juda. Julle moet waarheid en vrede liefhê.”

20. Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Mense van ander nasies en stede van die wêreld sal na Jerusalem toe kom.

21. Mense van een stad sal aan die mense van ’n ander stad sê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe en vra daar vir die Here om ons te seën en om die Here, die Almagtige, te soek. Ek gaan om dit te doen!’

22. Mense van baie nasies, selfs groot nasies, sal Jerusalem toe kom om die Here, die Almagtige, te soek en om te vra dat die Here hulle sal seën.”

Lees volledige hoofstuk Sagaria 8