Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 3:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Wees verseker: Jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, my dogter. Ek sal doen wat nodig is, want almal in die dorp weet jy is ’n eerbare vrou.

12. Daar is egter één probleem. Dit is so dat ek een van die lossers is, maar daar is ’n ander man wat nader verwant aan jou is as ek.

13. Bly vannag hier. Môre-oggend sal ek met hom praat. As hy gewillig is om vir jou as losser op te tree, sal hy dit doen. Maar as hy nie gewillig is nie, dan sal ek so waar as die Here leef met jou trou. Bly nou lê tot môre-oggend.”

14. Rut het by Boas se voete bly lê tot die oggend toe. Voordat dit lig genoeg was dat mense mekaar kon herken, het sy opgestaan. Boas het vir haar gesê: “Niemand moet weet dat hier ’n vrou by die dorsvloer was nie.”

15. Boas het ook vir haar gesê: “Bring die mantel wat jy aan het en hou dit oop.” Hy meet toe ses mate gars vir haar daarin af en help haar om dit op haar rug te tel. Daarna is Boas dorp toe.

16. Toe Rut by haar skoonma aankom, vra Naomi: “Wat het gebeur, my dogter?”Rut vertel toe vir Naomi alles wat Boas gedoen het.

17. Sy voeg by: “Hy het my selfs ses mate gars gegee en gesê: ‘Jy kan nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’”

18. Naomi sê toe vir haar: “My dogter, wees maar geduldig totdat ons hoor wat verder gebeur. Die man sal nie rus voordat hy die saak vandag nog opgelos het nie.”

Lees volledige hoofstuk Rut 3