Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 1:2-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het,

3. is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly.

4. Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly.

5. In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns.

6. Naomi het daar in Moab gehoor dat die Here sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek.

7. Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe.

8. Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die Here julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het.

9. Mag die Here weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.” Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars.

10. Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.”

11. Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie.

Lees volledige hoofstuk Rut 1