Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 1:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die tyd toe die rigters in Israel opgetree het, het ’n man uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ’n swaar hongersnood in die land was. Hy en sy vrou en twee seuns het in die land Moab gaan woon.

2. Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het,

3. is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly.

4. Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly.

5. In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns.

6. Naomi het daar in Moab gehoor dat die Here sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek.

Lees volledige hoofstuk Rut 1