Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:4-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Abimelek het vir hom daarmee ’n klomp roekelose niksnutte gehuur om hom te volg.

5. Hy is met hulle terug na sy pa se huis in Ofra. Daar het hy al 70 sy pa se seuns op een klip laat vermoor. Jerubbaäl se jongste seun, Jotam, het egter weggekruip en die moord oorleef.

6. Die mense van Sigem en Millo het bymekaargekom en vir Abimelek koning gemaak by die groot eikeboom langs die klippilaar van Sigem.

7. Jotam het hiervan gehoor. Hy het toe op die top van Gerisimberg gaan staan. Van daar af het hy vir hulle geskreeu: “Luister na my, mense van Sigem, dat God na julle kan luister.

8. “Eendag het die bome besluit om vir hulle ’n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Regeer oor ons!’

9. Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om die olyfolie te gee waarmee God en mens vereer word, net om oor die bome te regeer?’

10. “Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom word jy koning oor ons!’

11. Maar die vyeboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my mooi soet vrugte te gee net om oor die bome te regeer?’

12. “Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom word jy koning oor ons!’

13. Ook die wingerdstok het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my wyn te gee wat God en mense se harte bly maak net om oor die bome te regeer?’

14. “Laaste vra al die bome toe vir die doringbos: ‘Kom jy, kom wees jy koning oor ons.’

15. En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my regtig wil salf as koning oor julle, moet julle in my skaduwee kom staan. As julle dit nie wil nie doen nie, sal daar vuur uit my dorings kom en die sederbome van die Libanon verteer.’

16. “Dink ’n bietjie na of julle eerbaar en in goeie trou opgetree het toe julle vir Abimelek koning gemaak het. Het julle reg gemaak met Jerubbaäl en sy nageslag? Het julle hom die eer gegee wat hom toekom?

17. My pa het ter wille van julle gaan oorlog maak. Hy het sy lewe vir julle gewaag. Hy het julle van die Midianiete bevry.

18. Julle het vandag met sy nageslag swaarde gekruis. Julle het sy 70 seuns almal op een klip doodgemaak. Mense van Sigem, julle het sy slavin se seun Abimelek koning gaan maak, net omdat hy julle familie is.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9