Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:23-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. God het struweling tussen Abimelek en die mense van Sigem laat kom. Hulle het teen Abimelek in verset gekom.

24. God het Abimelek vergeld vir die geweld wat hy sy broers, die 70 seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God het die mense van Sigem gestraf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25. Die mense van Sigem het hinderlae vir Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Abimelek het hiervan gehoor.

26. Gaäl, die seun van Ebed, het saam met sy familie na Sigem toe getrek. Hulle het die vertroue van die mense van Sigem gewen.

27. Op ’n keer het hy en sy mense uitgegaan in die veld. Hulle het druiwe gepluk en dit gepars om fees te hou. Hulle het in hulle god se tempel ingegaan en begin eet en drink. Hulle het Abimelek begin slegsê.

28. Ebed se seun Gaäl het gevra: “En wie is Abimelek nogal? Kom hy van Sigem dat ons na hom moet luister? Hy is maar net Jerubbaäl se seun. Sy generaal is maar net Sebul. Ons moet eerder na Sigem se ware afstammelinge in Gamor luister. Waarom moet ons ons aan Abimelek onderwerp?

29. As ek hier in beheer was, sou ek Abimelek weggejaag het.” Gaäl het vir Abimelek uitgedaag: “Kry jou leër bymekaar en kom veg teen my!”

30. Sebul, die stad se aanvoerder, het gehoor wat Gaäl, die seun van Ebed, kwytgeraak het. Hy was woedend.

31. Hy het boodskappers na Abimelek in Torma gestuur om vir hom te sê: “Gaäl, die seun van Ebed, en sy familie het in Sigem kom bly. Hulle is besig om die stad teen jou aan te hits.

32. Jy en die mense saam met jou moet vannag kom en in die veld gaan wegkruip.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9