Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:9-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou.

10. As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan.

11. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.” Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp.

12. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand.

13. Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.”

14. Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.”

15. Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die Here gee die Midianiete oor aan julle.”

16. Gideon het die 300 manskappe in drie afdelings verdeel. Hy het vir elke manskap ’n ramshoring in die hand gegee en ook ’n leë erdepot met ’n fakkel daarin.

17. Toe sê hy vir sy manskappe: “Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek.

18. Wanneer ek en almal by my op die ramshorings blaas, moet julle aan die ander kant van die kamp ook op julle ramshorings begin blaas. Skreeu dan: ‘Vir die Here en vir Gideon!’”

19. Gideon en die 100 manskappe by hom het tot op die kant van die kamp gegaan. Dit was net na middernag. Die wagte vir die middelste nagwag het toe pas omgeruil. Hulle het toe op die ramshorings geblaas en die erdepotte stukkend geslaan.

20. Al drie afdelings het op hulle ramshorings geblaas en die erdepotte gebreek. Hulle het die fakkels in hulle linkerhand gehou en die ramshorings in hulle regterhand. Hulle het begin skreeu: “’n Swaard vir die Here en vir Gideon!”

21. Elkeen was op sy pos reg rondom die kamp. Hulle het gesien hoe die hele kamp vervaard rondskarrel en paniekerig skreeu.

22. Toe die 300 Israeliete op hulle ramshorings blaas, het die Here veroorsaak dat die mense in die kamp mekaar aanval. Hulle het uit die kamp gevlug tot so ver as Bet-Sitta na Sereda se kant toe en tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.

23. Gideon het elke man uit Naftali, Aser en die hele Manasse opgeroep. Hulle het die Midianiete agtervolg.

24. Gideon het boodskappers uitgestuur na die heuwels van Efraim toe om te sê: “Kom af en val Midian aan. Sny hulle af by die driwwe van die Jordaan en by Bet-Bara.” Hy het al die manskappe van Efraim opgeroep. Hulle het die driwwe by die Jordaan en Bet-Bara beset.

Lees volledige hoofstuk Rigters 7