Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Toe sê die Here vir Gideon: “Hulle is nog steeds te veel. Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie.”

5. Gideon is toe met die manskappe af na die water toe. Daar het die Here vir hom gesê: “Sit dié wat die water uit hulle hand soos ’n hond met hulle tonge opslurp, eenkant. Skei hulle van dié wat op hulle knieë gaan om die water te drink.”

6. Daar was 300 wat die water met hulle hand geskep het om te drink. Al die ander het afgebuk om te drink.

7. Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle met hierdie 300 man wat die water uit hulle hand gedrink het, bevry. Ek sal Midian aan jou onderwerp. Al die ander manskappe kan teruggaan na hulle huise toe.”

8. Gideon het hulle proviand en die ramshorings wat hulle by hulle gehad het, gevat en hulle teruggestuur. Hy het net die 300 by hom oorgehou. Die Midianitiese kamp was onder op die vlakte.

9. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou.

10. As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan.

11. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.” Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp.

12. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand.

Lees volledige hoofstuk Rigters 7