Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:3-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hy het 900 ysterstrydwaens onder sy bevel gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank swaar onderdruk. Maar Israel het by die Here gepleit om hulle hiervan te bevry.

4. Debora was ’n vroulike profeet. Sy was die vrou van Lappidot. Sy was op daardie stadium die leier van die Israeliete.

5. Sy het onder die Deborapalm in die heuwels van Efraim, tussen Rama en Bet-El, gewoon. Die Israeliete het vir regsake na haar toe gekom.

6. Sy het Barak, die seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, het ’n opdrag vir jou: ‘Trek met 10 000 man uit Naftali en Sebulon saam op na Taborberg toe.

7. Ek sal vir Sisera, die aanvoerder van Jabin se leër, met sy oorlogwaens en sy weermag laat optrek na die Kisonspruit toe. Ek sal hulle in jou mag oorgee.’”

8. Barak antwoord haar: “Ek sal net gaan as jy saam met my gaan.”

9. “Goed,” het sy vir hom gesê. “Ek sal wel saam met jou gaan, maar omdat dit jou voorwaarde is, sal jy geen eer vir die veldtog kry nie. Die Here sal Sisera deur ’n vrou oorwin.” Debora het klaargemaak en sy is saam met Barak na Kedes toe.

10. Barak het Sebulon en Naftali by Kedes bymekaargebring vir die oorlog. Barak het 10 000 manskappe gelei. Debora was saam met hulle.

11. Geber was ’n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af. Hy het sy tente by die eikeboom van Saänannim naby Kedes opgeslaan.

12. Sisera het berig gekry dat Barak, die seun van Abinoam, op Taborberg saamgetrek het.

13. Sisera het toe sy 900 strydwaens en al sy manskappe bymekaargekry en van Garoset-Gojim af na Kisonspruit toe begin marsjeer.

14. Debora beveel toe vir Barak: “Maak jou reg. Die Here gaan vandag Sisera aan jou uitlewer. Die Here sal voor jou uit marsjeer.” Barak het toe sy 10 000 man van Tabor af gelei om te gaan veg.

15. Die Here het Sisera en sy oorlogwaens en al sy manskappe holderstebolder voor Barak laat vlug. Sisera het van sy wa af gespring en te voet verder gevlug.

16. Barak het die oorlogwaens en hulle bemanning agtervolg tot by Garoset-Gojim. Al Sisera se soldate is doodgemaak. Nie een van hulle het die geveg oorleef nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 4