Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Geber was ’n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af. Hy het sy tente by die eikeboom van Saänannim naby Kedes opgeslaan.

12. Sisera het berig gekry dat Barak, die seun van Abinoam, op Taborberg saamgetrek het.

13. Sisera het toe sy 900 strydwaens en al sy manskappe bymekaargekry en van Garoset-Gojim af na Kisonspruit toe begin marsjeer.

14. Debora beveel toe vir Barak: “Maak jou reg. Die Here gaan vandag Sisera aan jou uitlewer. Die Here sal voor jou uit marsjeer.” Barak het toe sy 10 000 man van Tabor af gelei om te gaan veg.

15. Die Here het Sisera en sy oorlogwaens en al sy manskappe holderstebolder voor Barak laat vlug. Sisera het van sy wa af gespring en te voet verder gevlug.

16. Barak het die oorlogwaens en hulle bemanning agtervolg tot by Garoset-Gojim. Al Sisera se soldate is doodgemaak. Nie een van hulle het die geveg oorleef nie.

17. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber die Keniet. Daar was ’n goeie vriendskapsverhouding tussen koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet.

18. Jael het uitgekom om Sisera te ontvang. Sy het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer! Kom na my toe. Moenie bang wees nie!” Hy gaan toe in haar tent in. Sy het hom onder ’n deken weggesteek.

19. “Gee tog vir my ’n bietjie water om te drink,” het hy vir haar gevra. “Ek is dors.” Sy het hom toe melk uit die melksak laat drink. Sy het hom weer onder die deken toegemaak.

20. Hy sê toe vir haar: “Staan by die ingang van die tent. As hier iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk ’n man by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!’”

21. Sisera was moeg en het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe een van die tentpenne gevat en met ’n hamer in haar hand stilletjies na Sisera gesluip. Sy het die tentpen dwarsdeur sy slaap gedryf tot in die grond sodat hy gesterf het.

22. Barak was op soek na Sisera. Jael het uitgekom na hom toe. Sy sê toe vir hom: “Kom hier, ek sal jou wys waar is die man na wie jy soek.” Barak het agter haar aan gegaan. Hy kry toe vir Sisera wat dood daar lê met ’n tentpen deur sy slaap.

23. God het op daardie dag vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder.

24. Die Israeliete het al sterker en sterker teen Jabin geword en hom uiteindelik vernietig.

Lees volledige hoofstuk Rigters 4