Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die hele volk het saamgestaan en soos uit een mond verklaar: “Niemand mag teruggaan huis toe nie.

9. Ons sal lootjies trek om te bepaal wie Gibea eerste moet aanval.

10. Een tiende uit elke stam van Israel sal kos by die volk gaan haal vir die soldate. Al die ander sal wraak neem op Gibea in Benjamin vir die skandelike ding wat hulle in Israel gedoen het.”

11. Al die Israeliete was dit eens en het bymekaargekom om Gibea aan te val.

12. Die Israeliete het mense na al die families in Benjamin gestuur om vir hulle te sê: “Daar het ’n skrikwekkende ding by julle gebeur.

13. Oorhandig daardie skurke van Gibea aan ons sodat ons hulle kan teregstel en so die kwaad in Israel kan uitroei.” Die mense van Benjamin was nie bereid om na hulle volksgenote te luister nie.

14. Die Benjaminiete het uit al hulle stede by Gibea bymekaargekom om teen die ander Israeliete oorlog te maak.

15. Daar het op daardie dag 26 000 gewapende soldate uit die stede van Benjamin bymekaargekom. Hulle het aangesluit by die 700 soldate wat in Gibea gebly het.

16. Onder hulle was daar 700 uitgesoekte soldate wat almal links was. Hulle kon haarfyn met ’n klip uit ’n slingervel korrel sonder om een keer te mis.

17. Aan Israel se kant, met uitsluiting van Benjamin, was daar 400 000 gewapende soldate.

18. Die Israeliete is eers na Bet-El toe. Daar het die Israeliete vir God gevra: “Watter stam moet die geveg teen Benjamin lei?” Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”

19. Die Israeliete het die volgende oggend opgetrek en regoor Gibea kamp opgeslaan.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20