Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:36-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Die Benjaminiete het toe besef dat hulle verslaan is. Die Israeliete het teruggeval net om die Israeliete wat in die hinderlaag opgestel was, meer ruimte te gee om te veg.

37. Die manskappe in die hinderlaag het vinnig van alkante in Gibea ingestorm en die inwoners voor die voet doodgemaak.

38. Die Israeliete het met die manskappe in die hinderlaag afgespreek dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad sou opstuur.

39. Dit was ’n sein vir die Israeliete om om te draai en terug te veg. Die Benjaminiete het teen daardie tyd al sowat 30 mans van Israel doodgemaak. Die Benjaminiete het gedink dat hulle weer soos die vorige kere die Israeliete sal verslaan.

40. Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die hele stad het reeds in ligte laaie gestaan.

41. Toe die Israeliete hulle begin aanval, het die Benjaminiete paniekerig geword, want hulle het besef dat ’n katastrofe hulle getref het.

42. Hulle het omgevlieg om met die pad na die woestyn voor die Israeliete te vlug. Hulle kon egter nie die geveg afskud nie. Dié wat die stad vernietig het, was ook op hulle hakke.

43. Die Israeliete wat hulle agtervolg het, het hulle omsingel en genadeloos afgemaai. Hulle is tot oos van Gibea uitgewis.

44. In daardie veldslag is 18 000 dapper mans van Benjamin dood.

45. Die ander het deur die woestyn na die Rimmonrots gevlug. Langs die pad soontoe het die Israeliete nog 5 000 van hulle doodgemaak. Hulle het op die Benjaminiete se hakke gebly tot by Gidom en nog 2 000 van hulle om die lewe gebring.

46. In totaal is 25 000 dapper mans van Benjamin daardie dag dood.

47. Net 600 man het daarin geslaag om tot by die Rimmonrots te vlug. Daar moes hulle vier maande lank bly.

48. Die manskappe van Israel het teruggegaan na die gebied van Benjamin. Hulle het alles, mens en dier, in elke stad doodgemaak. Hulle het alles waarop hulle afgekom het, verbrand.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20